Die appellant is in Desember 1999 in die streekhof skuldig bevind aan diefstal van ’n staaf fyngoud ter waarde van meer as R1,3 miljoen en aan ’n oortreding van art 143(1) van die Wet op Mynregte 20 van 1967. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf vir diefstal gevonnis en 5 jaar vir die mynregte-oortreding, laasgenoemde opgeskort. Sy aansoek om verlof om te appelleer teen skuldigbevinding en vonnis is deur die streekhof geweier, en daarna ook deur twee regters van die Oranje Vrystaatse Provinsiale Afdeling ingevolge art 309C van die Strafproseswet 51 van 1977. Die appellant het toe gepoog om verdere appèl of verlof by die Hooggeregshof van Appèl te verkry, veral nadat sy medebeskuldigdes suksesvol appèl teen hul strawwe aangeteken het.