Die appellante is boere langs die Blyderivier in die Hoedspruit-omgewing en lede van die Benede Blyderivier Watergebruikersvereniging (WGV), die regsopvolger van die Blyderivier Besproeiingsraad. Sedert die 1950’s ontvang hulle besproeiingswater uit die Blyderivier via die Jonkmansspruitkanaal. ’n Ministeriële kennisgewing van 1987, uitgereik kragtens die Waterwet 54 van 1956, het bepaal dat ’n maksimum van 9 900 m³ water per hektaar per jaar uit ’n staatswaterwerk voorsien mag word. In praktyk is histories meer water by die kanaalinlaat ingekeer om verliese in die verouderde privaatkanaal te akkommodeer, sodat boere aan die einde van die kanaal steeds hul volle 9 900 m³ by hul plaasuitlate ontvang het. In 2004 het die WGV besluit om voortaan slegs die maksimum van 9 900 m³ per hektaar (plus 15% vir kanaalverliese) by die kanaalinlaat te lewer, wat tot gevolg gehad het dat boere stroomaf minder water by hul plase ontvang. Die appellante het ’n dringende aansoek om tussentydse regshulp gebring en aangevoer dat hulle ’n bestaande wettige watergebruik het om 9 900 m³ per hektaar by hul plaasuitlate te ontvang. Die hof a quo het die aansoek van die hand gewys.